FANDOM

1,927,831 Pages

StarIconBronze
LangIcon
​Solly en Ma

This song is by Coenie De Villiers and appears on the album Hartland (1993).

Na pa se dood was ma alleen
(die Karoo in die winter word koud)
Ek was tien daardie jaar en my broer was vier
en my ma was skielik oud

Sy't rokke gemaak vir die hele distrik
en gewerk tot laat in die nag
en soms as sy opkyk sou 'n mens kon sweer
dat sy pa op die drumpel verwag

Solly was 'n boerejood
op reis van plek tot plek
met knope en lappe sy brood verdien
dog kwalik sy petrol gedek

En deur die jare het Solly aan ma
meer as knope en garing verkoop
haar oë was nou immer op die pad gerig
in haar hart was daar skielik weer hoop

Na ete dan vat hy my ma se hand
en die kinders moes buite bly
maar selfs na jare se kom en gaan
bly sy woorde my steeds nog by:

(koor)
Kom ek en jy gaan vye pluk
en ons los die kind om te speel
die lewe is hard en die bietjie geluk
wat ons het, my lief, moet ons deel
Want dis rooier as 'n malva
en dis so seker soos die son
selfs anderkant die liefde
lê my hart se horison

Die jare het verbygeflits
die lewe was goed vir ma
Solly het haar weer 'n vrou gemaak
gehelp om die las te dra

Maar eendag het ons nuus gekry
van die Buick op 'n draai in die pad
ma se hart het ineengekrimp
want die Here het Solly gevat

Ek weet dit was sonde, het my ma gebieg
en die Singer getrap dat hy dreun
want 'n vrou bly 'n vrou, en Solly was man -
maar wat sal jy weet, my seun?

En tog onthou ek sy sagte oë
as hy vra of ons buite sou bly
en selfs na jare se kom en gaan
bly sy woorde my steeds nog by:

(koor)